Philippolis 1822

The first settlement in the Free State


Home

Accommodation
Art
Jobhuis
Khela
Oude Wagenhuys
The Shop
Attractions in area
Background
Bookshops & Library
Businesses &
Public Services
Historical Buildings
& Artifacts
News
Picture gallery
Property for sale
Restaurants

Tigers
Tiger Canyons


Contact us
 
 

Nuusbrief 4:

28 Oktober 2012
 

‘n Bejaarde toeris aan Philippolis wou die week weet: “Waarom doen julle dit?” Sy vraag was duidelik en dit het geblyk dat daar ‘n amperse verdagtheid teenoor die Philippolis Projek by hom aanwesig was. Dalk dieselfde as die van ‘n jong sakeman net na die eerste werkdag van 21 September 2012. “Ek is baie ongelukkig met wat in Philippolis gebeur. Ons betaal belasting en nou moet ons nog die werk doen ook!”  

Die antwoord is lank. In kort kon mens verklaar dat dit uit die hart gebore is.  

Ons vervallentheid in ‘n kultuur van verorber, absorbeer, kry en wil he, het gemaak dat ons nie meer genoeg omgee, gee en opoffer nie. Die voordurende verskuiwing van die ideale van die perfekte, grootliks deur die “brand names” en die “Jones’s” het ons verander in hoespoed rotte. Ons eie en gesuggereerde vrese vir die onbekende moet gesus word met versekering. Mure en slotte teen die honger of gulsige rowers, versekering teen gevreesde siektes wat soms direkte uitgroeisel raak van ons gestresde en gekitsde lewensstyle, korttermynversekering om vir ons gewaande gemaksones se veranging te betaal sou iets gebeur, versekering vir die oudag wanneer die norm beveel “nou’s dit aftree oord toe”. Ons het vreesgedrewe duplikate geraak.   

Dit als terwyl ‘n meerderheidspersentasie van ons mede Suid-Afrikaners se grootste vrees  dalk die  honger moet wees; ek weet nie.

Ja, maar hulle is meestal dronk. Die dronk is dalk die pad na die hemel om van die hel van gister en netnou-weer te ontsnap; ek weet nie.

Ja, maar hulle wil nie werk nie. “Die dae lank se min eet maak my treurig, meneer”; ek weet nie.

Ja, maar hulle steel. Die geslagte se ontneming het ‘n gulsigheid tot gevolg en as die tafel gedek staan, genooid of ongenooid, eet soveel so gou as moontlik. Ek weet nie.

Ja, maar hulle kry “grants” van die staat. As dit nie vir die “grants” was nie , sou ons dalk halfpad deur ons  eie “Arab Spring” gewees het. Wanneer die Chinese grondstofgeld waarmee die staat klaarblyklik die “grants” betaal in 2020 in die woorde van Moeketsi Mbeki , opdroog, kan Suid Afrika dalk sy “Arab Spring” beleef. En dit sal die moeder van revolusionere lentes wees. Ek wil nie weet nie.

En jy moet jou naaste liefhe soos jouself…

En dan lees jy van ‘n meningspeiling in Beeld wat as uitslag voorhou dat meer as 60% van die talle deelnemers eerder in ‘n klein dorpie sou wou bly, as in ‘n stad of groot dorp. Dalk die verlang na ‘n goed funksionerende gemeenskap en onopgesmukte menswees, verder weg van die plastiek, chroom en glas; uit die moderne Jerigo uit, weg van die gekloonde “malls”, weg van ‘n gejaagde bestaan ontneem van vryheid en vrede.

Die besef dat ons in Philippolis, oudste nedersetting in die Vrystaat en die ou Transvaal, die voorregte van uiters lae misdaad, skoon lug, goeie verhoudings onderling en die plattelandse lewensstyl as vanselfsprekend aanvaar, terwyl miljoene ander Suid-Afrikaners in hul eie huise agter tralies woon, erge besoedeling ervaar, nie hul bure ken nie, het ons genoop om daadwerklik te begin om dit wat ons het te bewaar en te verbeter. Dit geld ons infrastruktuur, lewensstyl asook ons mense.

Die gemeenskap het, sonder om die plaaslike owehede te kritiseer vir swak dienslewering, besluit om self die uitdagings te aanvaar en die dorpie op te kikker. Met harde werk en oop harte is daar ‘n begin gemaak om nie net nog ‘n skoonmaakaksie te loods nie, maar enersyds infrakstruktuur te verbeter en andersyds ‘n positiewe impak te maak op die inwoners se lewens.

Voorheen sou daar oral rommel rondgestrooi wees. Die ingesteldheid het sodanig begin verander dat sekere gedeeltes van die dorp nou bykans altyd skoon is. Die park by die ingang tot die dorp was toegespan met n onooglike heining. Met die hulp en organisasie deur Danie Van den Berg, ‘n pensionaris is die park nou pragtig omhein deur ‘n plaaslike boer se werkers. Verspoelings en uitkalwings langs die strate is met honderde vragte gruis herstel en vasgerol. Alles gedoen met die toerusting , geld, arbeiders van plaaslike sakemense en boere. Piere de Vos, ‘n plaaslike sakeman het persoonlik dae agter sy trekker se stuurwiel deurgebring om paaie te help herstel. Clayton Steel het ‘n padskraper aan die projek geleen. Paaie wat na bewering 15jaar terug laas geskraap was, is reeds herstel. Geroeste en vervalle bruggies is herstel en geverf. Die Kopanong Plaaslike Munisipaliteit het R79 000.00 se brandstof aan die projek bewillig. Plaaslike sakemense, inwoners en vriende van Philippolis het reeds duisende geskenk om die wiele aan die rol te hou.

Daar is reeds begin met die aanbring van nuwe verkeerstekens; daar is by sommige kruisings en aansluitings geen of verbleikte stoptekens. Openbare parke spog met nuwe plante en gruispaadjies. Die eerste nuwe straatnaambord is aangebring: Kokstraat, vernoem na Griekwahoofde. ‘n Sokkerveld word gemerk en nou kan die spelers van die Bergmanshoogte Skool die spel se reels toepas. Bykans vyftig slaggate in ‘n 200m lange gedeelte van Hospitaalstraat word herstel onder leiding van ‘n jong plaaslike sakeman met padboukwalifikasies, Christiaan du Toit. Werkers van die VVA werk kliphard vrywillig saam.

Hier is nog baie maande en dalk jare se harde werk voor. Philippolis gaan met positiewe gesindheid, samewerking tussen al die inwoners en die munisipaliteit een van die beste dorpe in die land word. Erens voorentoe sal ons dalk kan terugstaan en kyk na ons handewerk, maar dan sal ‘n kind dalk aan ons baadjie trek en vra: “…meneer, asb net vyf rand vir brood” en dan sal ons opnuut besef dat die werk nie klaar is nie.

Hier wil ons ‘n toekoms vestig waar kinders van jongs af gehelp word om hul eie boererye en besighede te vestig, sodat niemand eendag sal hoef te drink om uit hul hel weg te kom nie. Ons wil nooit nodig he om ‘n gompotjie te sien le waar kinders flussies gesit het nie. Ons wil nooit hoor dat een van ons dorp se kinders in die tronk is terwyl hy eintlik besig moes wees om ‘n kwalifikasie te verwerf nie. Ons wil nooit hoor dat een van ons kinders ‘n roekelose bestuurder was, wie ook ander mense hul lewens gekos het nie.

Die bome wat ons nou plant sal dalk eers lank nadat ons reeds weg is, behoorlike skadu bied. Die saad wat ons gaan saai, sal miskien jare in die grond wees en eers opkom wanneer die tyd reg is, solank ons net daagliks doen wat ons moet doen en nooit moeg word om goed te doen nie. Miskien as ons ‘n ou kar aanskaf waarmee ons ons kinders, elke een van hulle, leer om verantwoordelik te bestuur, sal ons kinders se name nie onder die padslagting opskrifte verskyn nie. Miskien wanneer die land nie meer genoeg voedsel kan invoer nie, sal ons groentetuine en kekkelende henne ons rustig stem.

En wanneer ons oud is sal ons harte verwarm wanneer nou se nog ongebore kinders ons met ‘n “More Tate, hoe gaan dit?” groet.  Dit wat ons hier het mag nooit net verdwyn nie. Wanneer dit hier verdwyn, is Perth die alternatief vir ons nageslag, met net die vae merk van herinnering aan karoostof en ‘n voorgeslag uit Afrika, vir hulle oor.

Ons sal saamwerk om die brandarmes se nood te verlig en streef om net mens te wees, soos die Kona-gesin in Philippolis se Pollapark, waar ‘n ouma na haar vier vigswesies en nog twee omsien. Hulle maak reeds organiese kompos vir volgende seisoen se groentetuin, en daar’s altyd ‘n glimlag daar.  

Deon Beneke
 

 

 

 
 
Property for sale